Showing posts with label Raakreis. Show all posts
Showing posts with label Raakreis. Show all posts

Wednesday, April 30, 2014

Koningstrand


Koningstrand is een van Port Elizabeth se bekendste en mees gewilde strande en strek van die hawemuur tot by die McArthur swembadkompleks.  Die naam kom vanaf die Britse koninklike besoek van 1947 toe die koninklike trein langs die strand getrek is en 'n deel van die strand blykbaar omhein is vir die ekslusiewe gebruik van die koninklike familie.  Die prinsesse het op die strand gaan perdry terwyl die koning ook daar gaan swem het.  Plaaslik is begin om na die strand te verwys as die koning se strand en vandag is dit bekend as Koningstrand.

Wednesday, February 27, 2013

Verwelkoming


'n Lantêring wag vir gaste op hulle aankoms by Camp Figtree in die Zuurberg na 'n wildsbesigtigingsrit in die Addo Olifant Nasionale Park.

Saturday, February 9, 2013

Donkin mosaïek op Roete 67

Een van die mooiste kunsstukke wat deel uitmaak van die nuwe Roete 67 kuns- en kultuurroete in Port Elizabeth is die reuse mosaïek op die Donkin Reservaat.  Die moasïek wat deur studente aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gedoen is verteenwoordig aspekte van die Ooskaap.  Die sluit in diere, voëls, plante, mense en vele ander dinge.  Route 67 bestaan uit 67 kunswerke wat die 67 jaar wat Nelson Mandela in die publieke oog deurgebring het verteenwoordig.  Dit begin by die Campanile en eindig op die Donkin Reservaat met die kunswerke wat oral langs die roete gesien kan word. 

Tuesday, January 22, 2013

Montagu Museum

Montagu op Route 62 in the Klein Karoo het twee fantastiese museum wat besoekers aan die dorp by kan gaan inloer.  Die Montagu Museum is geleë in die ou Sendingkerk wat in 1907 gebou is en konsentreer op die dorp se kultuur-historiese skatte.  Die museum het verskeie uitstallings met die kerk se preekstoel and ander kerk items wat sentraal hieraan is.  'n Belangrike deel van die museum is die medisinale plantnavorsing wat hier plaasvind en ook uitgestal word.  Agter die museum is ook 'n pragtige roostuin wat dateer uit die dorp se vroeë jare.  Die ander museum op die dorp wat die moeite werd is om te besoek is Jouberthuis so bietjie verder af in die straat.

Friday, January 11, 2013

Waar ruwe rotse




Die berge buite Montagu soos jy deur die poort ry is absoluut asemrowend.  In die Jouberthuis Museum op die dorp hang 'n ou foto van dieslefde berg as in die foto hierbo.  Die vrou wat daar werk het gesien dat ek na die foto staan en kyk en vra toe of ek die gedig "Waar ruwe rotse" ken.  Die digter, C M van den Heever (1902-1957), was oorspronlik ‘n Vrystater en het blykbaar op 'n stadium ook in Montagu gewoon. 
 
Die gedig verwys na die tragiese verhaal van ‘n pa wie se seun in ’n klipskeur val en hoe daar dae lank te vergeefs gepoog is om die seun te red.  Die seun smeek uiteindelik sy pa om hom te skiet. Dit word in die algemeen aanvaar dat die gedig gebasseer is op 'n ware verhaal wat op die plaas Aasvogelkop naby Smithfield in die Vrystaat afgespeel het, maar daar is ander mense wat sê dit kom uit die Weskaap êrens.
 
 
 
Waar ruwe rotse
 
Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo 'n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip 'n voet en drillend val 'n roer...
'n skerp geskuur – 'n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp 'n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward...sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

'n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind...en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs...die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by...die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet...en nou...”

'n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans 'n afloop-traan.

“Vergeef my, God!”...’n skoot gedemp en dof...
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil...die aasvoëls kras...’n vader staar.
 

Sunday, December 16, 2012

Lewer in die township


Ek is mal oor lewer, maar nie almal is groot aanhangers daarvan nie.  In die townships is dit wel baie gewild en word verkoop op baie straathoeke waar kos gemaak en direk uit die potte aan verbygangers verkoop word.  Onlangs het ek 'n toer vir 'n groep na New Brighton township in Port Elizabeth gereel en een van die stopplekke was 'n "wegneemete" hoek. 

Hier het een van my kollegas 'n pot lewer en uie voorberei en alhoewel baie van die mense op die toer met opgetrekte wenkbroue daarna gekyk het het hulle gou ingespring en die bak leeggemaak.  Ek het nog gehoop vir 'n laaste happie toe was daar net uie oor. 

Monday, December 3, 2012

Klein treintjies


Op die eerste Sondag van die maand stroom baie families met klein (en ander met nie so klein) kinders na die Port Elizabeth Model Locomotive Society se maandelikse oop dag.  Families staan al van vroeg af tou om op die treintjies te ry met veral die stoom lokomotiewe wat baie aftrek kry.  Die rit vat wel net 'n paar minute, maar sluit in 'n tonnel, die Groot Grasrivier brug en 'n paar draaie deur die gronde in. En die beste van alles.  Dit kos net ongeveer R6 per rit.

Monday, November 26, 2012

Kaap die Goeie Hoop


 
Die Kaap die Goeie Hoop is die naam van die mees suid-westelike landpunt van Afrika en is letterlik 'n klipgooi van Kaappunt af geleë.  Dit is tradisioneel (en verkeerdelik net soos met Kaappunt) geag as die punt waar die Atlantiese Oseaan en die Indiese Oseaan mekaar ontmoet, terwyl die eintlike ontmoetingspunt verder ooswaarts by Kaap Agulhas - Afrika se mees suidelikste punt - is. Die koue Benguelastroom wat van Antarktika af noord vloei, ontmoet wel die warm Agulhas-stroom naby die Kaap die Goeie Hoop.

Die meeste besoekers aan Kaappunt besoek ook die Kaap die Goeie Hoop en met sekere tye staan mens omtrent in 'n tou om 'n kans te kry vir 'n foto by die bordjie (soos ek hier maak).

Monday, November 19, 2012

Noetzie - Kastele op die strand


So 'n paar kilometer buite die Tuinroete dorp Knysna, aan die einde van 'n grondpad, is 'n baie unieke plek met die naam Noetzie.   Noetzie (Khoi-San vir Donker Water) het 'n pragtige strand en strandmeer omring deur inheemse woude, maar wat Noetzie laat uitstaan is die feit dat daar verskeie kastele langs die strand is.  Die area is reg van Knysna se begin jare af 'n plekkie waar die plaaslike inwoners oor naweke gaan kamp het.  Die eerste kasteel is in 1932 uit plaaslike klip as 'n vakansiehuis gebou met verskeie ander wat in die volgende paar dekades gevolg het.

Tuesday, November 13, 2012

Kaappunt se vuurtorings

Kaappunt in die Kaap van Goeie Hoop Natuurreservaat is seker een van die plekke wat die meeste besoekers ontvang in Suid Afrika.  Alhoewel Kaappunt nie die mees suidelikste punt in Afrika is nie, is dit die suidelikste punt van die Kaapse Skiereiland en een van die plekke waarheen besoekers gaan as hulle om die Skiereiland toer.  Die ou Kaappuntvuurtoring by Kaap Maclear is een van twee vuurtorings by Kaappunt en kan bereik word deur of die trappies te klim of die makliker opsie wat die Vlieënde Hollander kabelbaan is te gebruik. Die ou vuurtoring is op 1 Mei 1860 opgerig op 'n hoogte van 249 meter bo seevlak.  Die toring was egter te hoog en is gereeld in die mis waar dit dan nie deur skepe gesien kon word nie.  Nadat die Lusitania, 'n Portugese skip, op 18 April 1911 gestrand het, is daar besluit om 'n nuwe toring op te rig. 

Wanneer mens opgeklim het tot by die ou vuurtoring kan jy Kaappunt self met sy loodregte kranse sien waar dit afreik tot waar die see op die rotse breek. 

Reg onder op Dias Punt is die "nuwe" Kaappuntvuurtoring.  Die hoeksteen van die nuwe toring is op 25 April 1914 gelê, maar dit is eers na die Eerste Wêreldoorlog voltooi en in gebruik geneem. Die toring se lamp wat omtrent 87 meter bo seevlak lê is teen sonsondergang op 11 Maart 1919 deur 'n driejaaroue meisie, Thurl Cooper, dogter van die die vuurtoring ingenieur H.C. Cooper, aangesteek.  Die nuwe Kaappuntvuurtoring is die kragtigste in Suid-Afrika en die 10 000 000 kerskrag lig flits drie keer elke dertig sekondes.

Friday, November 9, 2012

Stormsriviermond hangbrûe

Die Tsitsikamma Nasionalepark op die Tuinroete is een van die mooiste plekke in Suid-Afrika met sy inheemse woude, loodregte kranse en pragtige kuslyn.  Die 1 km lange mondwandelpad van die ruskamp tot by Stormsriviermond is die gewildste staproete in die park en die hoogtepunt is die drie hangbrûe by die riviermond self.  Die oudste een van die drie steek die rivier oor terwyl die twee mees onlangse toevoegings oorgesteek word soos mens die rivier met die paadjie langs nader.  Die enigste waarskuwing wat ek het vir besoekers is dat daar baie trappies op die staproete is en nie sommer aangepak moet word as mens moelik stap nie. 

Tuesday, November 6, 2012

Sondagsrivier Veerboot


Colchester net buite Port Elizabeth is a rustige plekkie en is baie gewild met vakansiegangers en stadsjapies wat oor die naweek bietjie wil wegkom en die Sondagsrivier geniet.  Behalwe die rivier is die twee ander groot aantreklikhede die Addo Nasionale Olifantpark wat se suidelike hek in Colchester uitkom en die reuse sandduine aan die ander kant van die rivier.  Die Sondagsrivier Veerboot doen daaglikse ritte in die oggend and laat middag met die rivier af waarna mens teen die duine kan opklim om die fantastiese uitsig van bo af te geniet.

Wednesday, October 31, 2012

Steve Biko tronksel

Steve Biko is een van Suid Afrika se bekendste anti-apartheid aktiviste en is op 11 September 1977 oorlede nadat hy deur die polisie mishandel en aangerand is.  Biko is naby Port Elizabeth gearresteer en in die Walmer Polisiestasie aangehou voor hy ondervra en aangerand is.  Hy is agter in 'n voertuig gegooi en vervoer Pretoria toe waar hy oorlede is.  Ek het onlangs die geleentheid gekry om die polisiesel te besoek waar hy in Walmer aangehou is en dink alhoewel dit nie aan die publiek oop is nie is dit regtig iets wat toeriste sal wil sien. 

Monday, October 29, 2012

Witpoortjiewaterval

Die Witpoortjiewaterval is die fokuspunt van die Walter Sisulu- Botaniese Tuin in Johannesburg.  Die tuin is 'n baie gewilde piekniekplek en besoekers hou gewoonlik hulle oë baie wyd oop om te sien of hulle dalk die broeipaar Verreaux arende wat langs die waterval nesmaak kan gewaar.

Wednesday, October 24, 2012

Donkin Reservaat na donker


Die Donkin Reservaat in Port Elizabeth het 'n mengsel van beide oud en modern.  Die oud is die Donkin gedenkteken in die vorm van 'n piramide (1820) en die Donkin Vuurtoring (1861) terwyl die moderne aspek die nuwe kuns is wat deel vorm van Roete 67. 

Tuesday, October 16, 2012

Perdemonument


Port Elizabeth is die tuiste van een van net twee monumente in die wêreld wat spesifiek opgesit is vir perde.  Derduisende perde is na die Kaapkolonie gebring vir die Britse troepe wat in die Anglo Boereoorlog tussen 1899 en 1902 teen die Boeremagte geveg het.  Die meeste van hierdie perde is deur Algoabaai ingebring en geskiedenis wys dat meer as 300,000 perde van siektes, uitputting en hongerte gesterf asook doodgeskiet is. 

Daar was reeds in 1901 'n besluit geneem om 'n monument vir die perde op te rig en 'n dameskomitee is op die been gebring om fondse in te samel.  Mev Harriet Meyer was aan die hoof van die komitee wat £800 versamel en Joseph Whitehead aangestel het om die standbeel te ontwerp en op te rig.  Die monument is in 1905 op die hoek van Parkrylaan en Rinkstraat bekendgestel en in die 1950's na sy huidige posisie langs Kaapweg geskuif.
 
Die monument bestaan uit 'n Britse soldaat wat besig is om sy perd te versorg en die inskripsie daarop sê:
“The greatness of a nation depends not so much upon the number of its people or its territory,
as in the extent and justice of its compassion.”
 

Friday, October 12, 2012

Baba spinnekoppies

Ek is nie 'n groot aanhanger van spinnekoppe nie, behalwe as ek na hulle kyk deur my kamera.  Dan kom ek nogal verbasend naby.  Op 'n besoek aan 'n kampterrein langs die Gamtoosrivier het ek een middag gaan stap om 'n paar sonsondergang fotos te neem.  Langs die paadjie het ek iets vreemd opgelet en besluit om ondersoek in te stel.  Wat van ver af soos 'n bol iets gelyk het was 'n hele zoer baba spinnekoppies.

Sunday, October 7, 2012

Nelson Mandelabaai Stadion


Die Nelson Mandelabaai Stadion in Port Elizabeth was een van die stadions wat voor die 2010 FIFA Wêreldbeker gebou is.  Die 44 000 sitplek stadion het R1,1 miljard gekos (omtrent $150 miljoen) om te bou en is die eerste wêreldklas stadion in die Ooskaap.  Die stadion is langs die Noordeindemeer geleë en het gou een van Port Elizabeth se uitstaan landmerke geword. 

Die stadion maak vir 'n absoluut pragtige foto op aande wat daar 'n wedstryd plaasvind.

Die stadion is die tuisveld van beide die OP Kings (wat in die Currie Beker Eersteliga speel in 2012) en die Southern Kings (wat in 2013 in Super Rugby gaan speel) en het ook al gasheer gespeel vir die Springbokke in wedstryde teen Engeland en Nieu Zeeland.  Dit is ook die gasheerstadion vir die Suid-Afrikaanse been van die Internasionale Rugbyraad se wêreld 7's toernooi.  Behalwe vir rugby word daar ook van tyd tot tyd sokker gespeel.  In 2010 het daar 8 wedstryde in die FIFA Wêreldbeker hier plaasgevind en daar sal ook wedstryde hier gespeel word in die 2013 Afrikabeker.

Tuesday, September 18, 2012

Houtkappershuisie


Met sy inheemse woude vasgedruk tussen 'n pragtige kuslyn en die Tsitsikammabergreeks en bruingekleurde riviere wat daardeur vloei is die Tsitsikamma een van my gunsteling plekke in Suid-Afrika.  Wanneer mens die dorpie Stormsrivier besoek vind jy hierdie ou bosbouhuisies langs Eikelaning wat van die dorpie na die ou pad deur die woud lei.

Monday, September 10, 2012

Knysnakoppe


Die Knysnakoppe by Knysna in die Weskaap is een van Suid Afrika se bekendste natuurlike landmerke en word gereeld in reistydskrifte en brosjures gesien.  Die Koppe is ook een van die gevaarlikste ingange tot 'n natuurlike hawe in die wêreld met menige bote wat al hier deur die branders omgeslaan is of op die rotse geloop het.